
|
|
Carstens, Wannie
Professor Wannie Carstens is ’n oudstudent van die Universiteit Stellenbosch. Hy was voorheen dosent aan die Universiteite Stellenbosch (1977-1979) en Kaapstad (1980-1991) en is sedert Julie 1991 verbonde aan die Noordwes-Universiteit, Potchef¬stroomkampus (die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys) waar hy die huidige direkteur van die Skool vir Tale is.
Hy is al jare lank betrokke by aktiwiteite wat Afrikaans raak (op beide akademiese en organisatoriese vlak), en was ten nouste betrokke by die proses wat gelei het tot die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad (ATR), eers as voorsitter van die Voortsettingskomitee (2003-2005), daarna as voorsitter van die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA) vir die duur van hierdie liggaam se bestaan (2005-2008) en hy is sedert Mei 2008 die voorsitter van die historiese eerste Afrikaanse Taalraad (ATR), waarvan hy pas vir ’n derde termyn verkies is. Hy was ook lank lid van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (1992-2003), is die vroeëre ondervoorsitter (2003-2010) en die huidige voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) (2010-2012), dien as direksielid van die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)(2002-2010), en was ook lank lid van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en Taalmonument (2002-2010). Verder is hy die ondervoorsitter van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2009-2012) en dien ook sedert April 2010 as lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch. Hy was een van die stigter-oprigters van die versameling Afrikaanse poësie (die Ernst van Heerden-versameling) wat opgeneem is in die Poëziecentrum in Gent, België en is ook leier van ’n projek wat ’n digitale biblioteek oor Afrikaanse taalkundige bronne (DBAT) tot stand laat kom het. Hy is ’n gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting in SA en neem ook gereeld deel aan radio- en televisieprogramme oor taalsake.
Hy het reeds twee selfstandige boeke, Norme vir Afrikaans (1989, 1991, 1994, 2003, 2010) en Afrikaanse tekslinguistiek (1997) gepubliseer. ’n Boek oor die teorie en praktyk van teksredaksie, getitel Teksredaksie, saam met prof. Kris van de Poel van die Universiteit van Antwerpen, het einde Oktober 2010 in Afrikaans verskyn. Dié boek gaan hierna verwerk word in Engels en in Nederlands. Hy is ook mede-outeur van die 9de uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, die rigtinggewende publikasie oor spelling in Afrikaans. As lid van die Taalkommissie is hy ook mede-ontvanger van die CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en hy het ook ’n ATKV-Woordwyser-toekenning vir sy boek Norme vir Afrikaans (4de uitgawe 2003) ontvang. Die vyfde hersiene uitgawe van hierdie boek verskyn ook in November 2010.
Hy het reeds 32 akademiese artikels gepubliseer asook talle populêre artikels. Hy tree ook op as eksterne moderator vir ander Suid-Afrikaanse universiteite (UNISA, Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Pretoria) asook as eksterne eksaminator van verhandelinge en proefskrifte van ander universiteite.
|